Formulaire de recherche

2 Samuel 19

1Iemand het vir Joab gaan vertel: “Weet jy, die koning huil en treur oor Absalom.”

2Die manne het die oorlog gewen, maar daardie dag moes hulle almal begin huil en treur, want hulle het gehoor dat die koning hartseer is oor sy seun. 3Die manne het daardie dag stil teruggekom in die stad. Hulle het gekom soos manne wat verloor het en wat gevlug het uit die oorlog. 4Die koning het ’n doek oor sy kop gegooi en hy het hard aangehou skree: “My seun Absalom, Absalom, my seun, my seun!”

Joab raas met Dawid

5Joab het na die koning toe in die kamer gegaan en hy het vir hom gesê: “Jou manne het vandag jou lewe gered, en die lewens van jou seuns en jou dogters, jou vroue en jou *byvroue, maar jy *verneder hulle. 6Jy is lief vir die mense wat jou haat en jy haat die mense wat lief is vir jou, want jy wys dat jy dink jou *offisiere en manne is nie belangrik nie. Ek weet nou jy sou bly gewees het as Absalom nog gelewe het, en as ons almal dood was. 7Daarom, jy moet nou opstaan en vriendelik gaan praat met jou manne. Ek belowe jou, en die Here is my *getuie, as jy nie uitkom en met hulle praat nie, dan sal niemand vannag hier by jou bly nie. En dan sal dit baie sleg gaan met jou, slegter as wat dit gegaan het vandat jy jonk was tot nou toe.”

Dawid gaan terug

8Die koning het toe opgestaan en hy het in die *poort gaan sit. Toe die manne hoor dat hy in die poort sit, het hulle almal gekom om hom te sien. Die manne van *Israel het gevlug, elkeen na sy huis. 9Al die mense van die *Israel-stamme het met mekaar begin praat. Hulle het gesê: “Die koning het ons gered van ons vyande, hy het ons vrygemaak van die Filistyne, en nou het hy uit die land gevlug oor Absalom. 10Ons het vir Absalom *gesalf om oor ons te regeer, maar Absalom het gesterf in die oorlog. En nou, hoekom doen julle niks om die koning te laat terugkom nie?”

11Maar koning Dawid het ’n boodskap gestuur vir *die priesters Sadok en Abjatar. Hy het vir hulle laat weet: “Julle moet praat met die leiers van *Juda en julle moet vir hulle sê: Die koning en sy huisgesin het gehoor wat die Israel-mense praat. Hoekom wil julle die laaste mense wees wat die koning wil laat terugkom na sy huis? 12Julle is my eie familie, hoekom is julle die laaste mense wat die koning wil laat terugkom? 13En julle moet vir Amasa sê: Ek en jy is familie, ek bid dat God my sal help sodat jy altyd die *hoof van die leër sal wees. Joab sal nie weer die hoof van die leër wees nie.”

14So het Dawid gepraat totdat al die manne van Juda besluit het dat hy weer hulle koning moet wees. En hulle het vir die koning laat weet: “Jy moet terugkom, jy en al jou manne.”

15Die koning het teruggegaan en hy het by die Jordaan-rivier aangekom. Die mense van Juda het na die stad Gilgal gekom om die koning te ontmoet en om hom oor die rivier te help.

Simeï kom ontmoet vir Dawid

16Simeï seun van Gera, die man van die stad Bagurim in die land Benjamin, het vinnig gekom en hy het saam met manne van *Juda gegaan om koning Dawid te ontmoet. 17Daar was 1 000 manne van die *Benjamin-stam by hom. Siba wat vir die familie van Saul gewerk het en sy 15 seuns en 20 *slawe was ook by hom. Hulle was vóór die koning by die Jordaan-rivier. 18Hulle het deur die rivier gegaan om die huisgesin van die koning deur die rivier te bring en om te doen wat hy wil hê. Toe die koning deur die Jordaan-rivier gekom het, het Simeï seun van Gera voor hom kom lê 19en hy het vir die koning gesê: “Meneer moet my asseblief nie straf oor die verkeerde ding wat ek gedoen het toe Meneer die koning uit Jerusalem moes gaan nie. Meneer moenie daaraan dink en kwaad bly vir my nie. 20Ek weet ek het sonde gedoen, en daarom het ek vandag eerste afgekom om die koning te ontmoet. Ek was voor die *Josef-stamme hier.”

21Abisai seun van Seruja het gesê: “Simeï moet sterf, want hy het die *gesalfde van die Here *vervloek.”

22Maar Dawid het gesê: “Seuns van Seruja, hoekom sê julle dit vir my? Wil julle my vandag verkeerd laat doen? Ons maak vandag niemand dood in die land Israel nie, want ek weet ek is vandag koning van Israel.”

23Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie sterf nie.”

Die koning het dit belowe en hy het gesê die Here is *getuie.

Mefiboset kom ontmoet die koning

24Mefiboset kleinseun van Saul het ook vir Dawid kom ontmoet. Vandat die koning weg is totdat hy veilig teruggekom het, het Mefiboset nie sy voete gewas of sy baard geknip of sy klere gewas nie. 25Toe hy in Jerusalem gekom het om die koning te ontmoet, het die koning vir hom gevra: “Mefiboset, hoekom het jy nie saam met my gekom nie?”

26Mefiboset sê toe: “Meneer die koning, die man wat my moet help, het my gelos. My bene is verlam, en ek het gesê hy moet vir my ’n donkie opsaal sodat ek kan ry en saam met die koning kan gaan. 27En hy het ook nog geskinder oor my by Meneer die koning, maar Meneer die koning is soos ’n *engel van God, jy moet doen wat jy dink is reg. 28Jy kon my en my hele familie doodgemaak het, maar jy het my aan jou tafel laat eet. Ek kan niks meer vra nie, ek kan net vra dat die koning my moet help.”

29Toe sê die koning vir Mefiboset: “Jy moenie nog iets sê nie. Ek sê jy en Siba moet die grond deel.”

30Mefiboset het vir die koning gesê: “Meneer die koning, Siba mag alles kry, want jy het veilig teruggekom by jou huis.”

Barsillai kom groet die koning

31Barsillai van die land Gilead het van die stad Rogelim gekom om saam met die koning deur die Jordaan-rivier te gaan en hom te groet. 32Barsillai was baie oud, hy was 80 jaar oud. Dit is hy wat vir die koning gesorg het terwyl die koning in Maganajim gewoon het. Hy kon dit doen, want hy was baie ryk. 33Die koning het vir Barsillai gesê: “Jy moet saam met my kom, ek sal vir jou sorg in Jerusalem.”

34Maar Barsillai het vir die koning gesê: “Ek sal nie meer lank lewe nie. Hoekom sal ek saam met die koning gaan? 35Ek is nou 80 jaar oud. Ek weet nie meer wat is goed vir my en wat is nie goed nie, ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie, ek sal nie meer kan hoor wanneer mense sing nie. Dit sal vir die koning te veel wees om vir my te sorg. 36Ek sal ’n klein entjie saam met die koning deur die Jordaan-rivier gaan. Hoekom wil die koning hierdie ding vir my doen? 37Laat my asseblief teruggaan. Ek wil in my stad sterf by die *graf van my ouers. Maar hier is my seun Kimham. Hy kan saam met die koning gaan, en jy kan vir hom doen wat jy besluit om te doen.”

38Toe sê die koning: “As Kimham saam met my kom, dan sal ek vir hom alles doen wat jy wil hê. Ek sal enige iets doen wat hy vra.”

39Al die mense het deur die Jordaan-rivier gegaan. Die koning het vir Barsillai gesoen en hy het hom gegroet, en Barsillai het teruggegaan huis toe.

Die mense van Israel raas met die mense van Juda

40Die koning het verder gegaan na die stad Gilgal, en Kimham het saam met hom gegaan. Al die mense van *Juda was daar, hulle het saam met die koning geloop, en die helfte van die mense van *Israel het ook saamgegaan. 41En daar kom al die Israel-manne toe na die koning toe en hulle vra vir hom: “Hoekom het ons broers, die manne van Juda, die koning gesteel? Hoekom het hulle saam met die koning en sy huisgesin en al die manne van Dawid deur die Jordaan-rivier gekom?”

42Maar al die manne van Juda het vir die manne van Israel gesê: “Die koning is familie van ons. Hoekom is julle kwaad hieroor? Die koning het nie vir ons kos of presente gegee nie.”

43En die mense van Israel het vir die mense van Juda geantwoord en gesê: “Ons is tien *stamme, Dawid is óns koning meer as wat hy júlle koning is. Hoekom het julle ons *verneder? Ons het eerste gesê ons wil die koning laat terugkom.”

Maar Juda het gewen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index